'n Vis op droë grond
Aangesien die eerste terugvoer op my blog in Afrikaans was voel ek vry om 'n posting in Afrikaans op te sit. Ai, Afrikaans. Dit val op die tong soos warm heuning, soos likeur, soos goeie rooi wyn.NB!!! Foto krediet: http://finn.smugmug.com/gallery/175538/1/6610116
Sommer met die intreeslag - vir enige iemand wat in SCUBA belangstel, besoek gerus www.submerge.co.za en teken in vir jou komplimentêre kopie - geldig vir die Aug/Sep en Okt/Nov uitgawes. Submerge is 'n nuwe SCUBA tyskrif vir die SA mark vir duikers deur duikers. As ek so mag sê, dis beslis die moeite werd!!!
Scuba foto's hoop ek volg binnekort. Ek kyk juis vandag na my foto's geneem op Aliwal Shoal in Desember 2005 - wat 'n belewenis. Vir die wat wil kyk na Aliwal Shoal foto's, helaas nie my eie nie, besoek gerus http://www.aliwalshoalscubadiving.co.za/photo.htm Onderwater fotografie is ongelukkig 'n duur stokperdjie - 'n ordentlike kamera alleen kan jou 'n minimum van omtrent R 4000 terugsit en 'n goeie strobe omtrent R 2500. Ek is nog op die disposable stadium, helaas, met gemengde resultate. Hou egter hierdie spasie dop, want ek sal van my foto's hier publiseer.
Daar is diegene wat wil weet waarom ons SCUBA. Die eenvoudigste antwoord wat ek aan kan dink is - OMDAT ONS KAN. Soos, waarom verken die mens die ruimte? Omdat dit daar is.
Verskillende mense kry verskillende dinge uit duik uit. Ek was, voor ek begin duik het, 'n kranige gholfspeler omdat ek gehoop het dat dit iets is wat ek en Leandi saam kan doen. Dit was nie waarna ons gesoek het nie - ek kan nie 'n bal reguit slaan nie en Leandi slaan soos 'n meisie - maar ek is nie teleurgesteld daaroor nie. Toe probeer ons SCUBA.
Ons het deur 'n vriendin van my niggie - nou een van my beste vriendinne - kontak gemaak met 'n instrukteur, en die res daarvan is geskiedenis. Ons het laat Julie in Pretoria by die De Jongh swembad ons PADI Openwater kursusse gedoen en ja... die gogga het gebyt. Meer as dit kan ek nie sê nie.
VIR MY PERSOONLIK gaan SCUBA duik oor die stilte en die vrede wat onder die water te vinde is. Stres los op in die water. Om eerlik te wees, was ek nog nie vanjaar in die water nie en ek voel dit aan my stresvlak en my "geestelike welstand". Ek kan nie wag vir die winter se mislikheid om die wyk te neem nie, dat ek net weer in die water kan kom. Vir ander mense is daar weer ander dinge. Om in die see te duik is heeltemal 'n ander lekkergoed as 'n binnelandse duik. Daar gaan dit oor die lewe en die kleur - die alien wêreld daar onder. 'n Wêreld sonder klank, sonder geweld, waar die natuur sy gang gaan. Ja, mens kan sien daardie wêreld het nie die gulsigheid van die mens ontsnap nie, maar dis tog op 'n manier gespaar. Want meeste mense kom nie daar nie... SCUBA duikers is oor die algemeen mense wat baie ingesteld is op die natuur, daarom kan die onderwater wêreld gespaar bly vir ons nageslagte. As niks anders 'n mens kan oortuig nie... duik EEN keer in jou lewe saam met dolfyne. Dis 'n lewensveranderende ervaring.
Om op te som oor duik kan ek sê wat valskermspringers sê...
Those who do can't explain & those who don't can't understand.
Of, in my eie woorde...
Jy het nog nie geleef tot jy geduik het nie.


0 Comments:
Post a Comment
<< Home